Doebai (stad)

Doebai

دبي
Stad
Vlag van Doebai
Vlag
Wapen van Doebai
Wapen
Ligging van Doebai in die VAE
Ligging van Doebai in die VAE
Koördinate: 25°15′00″N 55°18′00″O / 25.25000°N 55.30000°O / 25.25000; 55.30000Koördinate: 25°15′00″N 55°18′00″O / 25.25000°N 55.30000°O / 25.25000; 55.30000
LandVlag van Verenigde Arabiese Emirate Verenigde Arabiese Emirate
EmiraatDoebai
Stigting1095
 • TipeEmiraat
Bevolking
 • Totaal3 108 000
TydsoneUTC+04:00 (VAE-standaardtyd)
Skakelkodes04
LughaweDoebai Internasionale Lughawe
Webwerfdm.gov.ae

Doebai (Arabies: دبي, Dubayy, [dʊˈbajj]) is die grootste stedelike nedersetting in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) en die administratiewe setel van die gelyknamige emiraat. Die stad is aan die noordelike rand van die emiraat Doebai geleë en word deur die Dubai Creek, 'n baai aan die Persiese Golf met 'n wydte van tussen 100 en 1 300 meter en 'n lengte van sowat 14 kilometer, in twee stadsdele verdeel. Vroeër was hier twee selfstandige nedersettings geleë – Daira aan die noordelike en Bur Dubai aan die suidelike kant.

Binne enkele dekades is Doebai omgeskep in 'n moderne metropool van die industriële tydperk met gesofistikeerde infrastruktuur

Brûe is net buite die middestad gebou sodat die meeste voetgangers in die sakekern deur veerbote (sogenaamde abra's) tussen die twee teenoorliggende stadsdele vervoer word. Die stadsgebied het veral in suidelike rigting langs die Jumeirah-strand en Sjeik Zayed-straat uitgebrei aangesien Doebai in die noorde aan die emiraat Sharjah grens. Baie Doebaise werknemers het hulle weens die laer huurpryse oorkant die grens in Sharjah-stad gevestig.

Nog omstreeks 1970 was Doebai 'n onbenullige dorpie in 'n sanderige woestyngebied wat hoofsaaklik deur pêrelduikers bewoon is. In die volgende dekades het Doebai 'n ongekende metamorfose ondergaan wat dit in 'n Arabiese metropool met globale belange en handelsbetrekkinge en 'n internasionale kulturele en ekonomiese sentrum omgeskep het wat in baie opsigte 'n brugfunksie tussen die ooste en die weste vervul. In November 2013 is Doebai aangewys as gasheerstad van die Expo 2020-wêreldtentoonstelling.[1]

Die lewensstyl van sy inwoners het dramaties verander. Terwyl daar teen die middel van die 1990's nog net enkele argitektoniese bakens en 'n beskeie toerismesektor was, het Doebai sindsdien ook tot 'n gesogte internasionale toeristetrekpleister en 'n mekka vir eiendomsontwikkelaars ontwikkel – met ambisieuse hotel-, winkelsentrum- en wolkekrabberprojekte soos Burj Khalifa, tans die hoogste gebou ter wêreld, en Burj al-Arab, die grootste hotel.

Met 3,108 miljoen inwoners (soos in Augustus 2018) huisves Doebai tans omstreeks 85 persent van die gelyknamige emiraat se bevolking, waarby inheemse Doebaiers lankal 'n minderheid in hul eie stad en emiraat geword het. Doebai se ongekende ekonomiese opswaai het honderdduisende immigrante uit die buiteland gelok, onder wie 'n kwartmiljoen werkmigrante uit Suid-Asiatiese lande asook sowat 50 000 Suid-Afrikaners (soos in 2009 beraam is).[2]

Doebai huisves sedert 2005 kantore van die Internasionale Krieketraad, terwyl die hoofkantoor steeds in Londen se Lord’s-krieketveld gesetel is. Doebai was een van die gasheerstede tydens die T20I-wêreldbeker 2021.

  1. (en) Expo 2020 Dubai UAE. Besoek op 28 April 2019
  2. (en) Time Out Dubai – South Africans in Dubai. Besoek op 29 April 2019

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search